hpme10

Bateleur Bastion is ‘n unieke behuisingsontwikkeling in die oostelike voorstede van Pretoria binne die munisipale grense van Wapadrand, Uitbreiding 5. Dit bied eienaars gemoedsrus en die geleentheid om hulle ideale vesting in die berge te skep met ‘n ononderbroke uitsig.

Daar wei ook verskeie soorte wild wat die bosveldatmosfeer van die ontwikkeling verskerp.

Ideaal vir die professionele of afgetrede persoon wat die rustigheid van die natuur op die voorstoep van Pretoria wil opsoek . . . te midde van sekuriteit, veiligheid en kwaliteit gee hierdie besonderse ontwikkeling die Beste van Beide Wêrelde.

Die ontwikkeling het sy oorsprong nadat ‘n groep sakemanne dit ten doel gehad het om die bedreigde berghaan of bateleur weer sy regmatige plek in die gebied te laat in neem.

Bateleur Bastion bestaan uit 13,5 hektaar uitsoekgrond waarop 76 eienaars hulle wooneenhede opgerig het, omring deur natuurlike plantegroei en dierelewe.

Om die estetiese voorkoms van hierdie ontwikkeling te verseker, is daar ‘n styldokument waarin die gebruik van kwaliteit materiale en die styl van die ontwerp, voorgehou is.

Streng voorskrifte ten opsigte van die behoud van die natuurlike omgewing en die vestiging van inheemse plante en bome word ook gehandhaaf deur die bestuursliggaam, wat saamgestel word deur huidige eienaars.

Die persele is gevestig op drie natuurlike plato’s en bied ‘n mooi noordelike uitsig vir elk van die eenhede, sonder enige hindernis van oorhoofse drade.  Daar is geen grensmure om die individuele persele nie.

Die ontwikkeling sluit ook ‘n dam in wat die natuurlike afvloeiwater opvang vanuit die hoër liggende gebiede en waar ‘n verskeidenheid watervoëls gevestig is.

home9

Honde en katte word hoegenaamd nie in Bateleur toegelaat nie – eienaars se wildlewe bestaan uit ‘n groot verskeidenheid van voëls, vlakhase, gevlekte-stertpuntmuishonde, en vele ander kleiner diertjies, soos byvoorbeeld, die Bronberg Goue Mol – as hulle eksklusiewe troeteldiere.

‘n Wandelpadnetwerk met verskeie rusplekke bied aan inwoners die vryheid en privaatheid om die natuur met al sy fasette ten volle te geniet.

Bateleur Bastion is maklik bereikbaar vanuit alle rigtings.